Vrugbaarheid en uitstekende moedereienskappe is uiters belangrik in ons stoetdoelwitte. 'n Boerbokprodusent moet so vinnig moontlike gesonde, swaar lammers teen die laagste koste speen om winsgewendheid te bevorder. Dit sal die volhoubaarheid van sy boerdery verseker. Patriot Boerbokstoet se diere voldoen deurlopend aan dié vereiste. Ons kliënte is verseker dat ons genetika, in kombinasie met goeie bestuursinsette, 'n aansienlike verbetering in hul kuddes teweeg sal bring.
Ons bokke loop op natuurlike weiding met lekke op strategiese tye in ons produksiesiklus. Ons boer in 'n gebied met lae kliprante en vlaktes wat met struike, Olien- en Kareebome, bloubos en Karoobossies bedek is. Die klimaat wissel van warm (dagtemperature van tussen 30 – 43°C) in somer wanneer ons reënvalseisoen is; tot koud (-8°C – 20°C) met kwaai ryp in die winter. Dié omgewing verskaf die ideale toestande om funksioneel doeltreffende en vrugbare diere wat 'n aanwins vir jou kudde sal wees, te ontwikkel.
Ons glo glad nie daaraan om stal gevoerde diere te produseer nie. Terwyl sulke diere op die oog af indrukwekkend mag vertoon, glo ons dat dit die vermoë van die Boerbok om onder ekstensiewe toestande met minimale insette te presteer, benadeel.